Kry ons die tyding, dis tyd om weer begrafnis te hou. Na die diens, sal daar toebroodjies en hard gekookte eiers, in die kerksaal bedien word.
Kry ek al ons swart klere uit, begrafnis klere. Ek dra begrafnis klere, net as ek begrafnis toe gaan. Ek kan om die “dood” nie, na ‘n funksie gaan, met ‘n rok, waarin ek laasmaand begrafnis bygewoon het nie.
Kom ons by die begrafnis aan, daar is mense wat ek van geen kant af ken nie. Dit is tannie Stefina, van Oom Herklaas, van Nylstroom. Huh? … ja, en hierdie is haar suster, Tant Feitjie sy was groot vriende van oorle, Ta…Tant, en daar gaan hulle aan die ween. Tant Feitjie, het oorle Ant Maria net 2 keer in haar lewe gesien.
Almal staan buite, en wag vir die kis om ingedra te word. Ek kry nou al warm, die son bak al te gesellig op hierdie swart rok. Wag….daar sien ek Stefaansie, ‘n verlangse neef, hy hardloop verwoed met sy video kamera rond, en vra almal om mooi te glimlag. Mense bêre onmiddelik die snesies in hulle handsakke, en hulle tande verblind jou eindelik soos hulle “smile”. Geen spoor, van vroeër se trane nie.
Ek begin nou erg warm kry, en besluit om binne te gaan sit en wag. Die voorste ry is vol gepak, dit is Ant Maria se bure. Daar sit Flippie, hy is die bure se seun. Hy draai skuins om in die kerkbank, en waai opgewonde vir ons. Ek skud net my kop op en af, dis tog ‘n gewyde diens. Ant Maria se kinders kom ook nou in, daar is nie plek in die voorste ry nie. Hulle skuif maar in die tweede ry in.
Die diens begin…Broeders en susters……daar gaan Tant Bettie aan die huil, hartstogtelik, ek kan niks hoor nie. Ek gryp ‘n snesie uit die handsak, Tant Bettie is Ant Maria se skoolvriendin…. wat sy op skool laas gesien het. Sy dink seker aan al die kere, wat hulle saam van die skool af huis toe geloop het, en toebroodjies gedeel het. Ek sukkel om die diens te volg.
Uiteindelik is die diens klaar, en daar gaan die kis, en al die mense, weer agter die kis aan buite toe. Ek skrik my byna oorhoeks, toe Oom Frederick verby my vlieg, en aandring om ‘n loer in die kis te gee. Nee, meen hy, mens moet seker maak dis die regte mens in daardie kis. Hy het al te veel kere gehoor hulle begrawe die verkeerde mense. Nadat hy geloer het, vertel hy opgewonde, ou Ant Maria lyk baie beter as toe sy nog gelewe het. Ek besluit om maar dadelik kar toe te gaan, en te wag dat die stoet na die begraafplaas vertrek.
Stadig begin die stoet vertrek, en ewe skielik skiet ou Blink Stefaansie hier van agter af in sy brullende kar verby ons, hy gee vet, verby die lykswa en jaag vooruit na die begraafplaas.
By die begrafnis klim klein Willie en Sannie op die grafstene langsaan om beter te kan sien. Ek staan so entjie verder onder ‘n koelte boom. DIs nou vrek warm en ek begin sweet.
Die kis word laat sak in die grond, en almal huil hartverskeurend. Stadig begin die manne die grawe opneem en die gat word toegegooi. Die vrouens staan eenkant en bewonder mekaar se kinders.
In die kerksaal storm almal vir die toebroodjies, en skottelgoedwater tee. Blink Stefaans vra of van die manne nie eerder ‘n bier soek nie. Hy gaan haal ‘n paar biere in sy koelsak. Tant Gesie, gaan vra Ant Maria se kinders of sy asb Ant Maria se klere kan kry. Die kinders is stom en antwoord dat dit klaar aan die minder bevoorregtes belowe is. Tant Gesie is dadelik opsternaat, en plak haar koppie en leë bordjie neer, gryp oom Martinus aan die arm en verlaat die partytjie.
‘n Verlangse neef gaan simpatiseer met Ant Stefina (oorle Ant Maria se suster). “Ag Sagrysie”, seg Ant Stefina, “hierdie is nog niks, laas week is Seuntjie ook oorlede, vir die laaste 2 jaar het hy so gelei” Ag, ek is vreeslik jammer Ant Stefina” sê Sagrys. “Is Seuntjie tannie se kleinseun”? ” Haai nee Boetie, dis my klein worshondjie”
(copyright wipneus, ek wil nie my familie geskiedenis oor die hele net versprei hê nie)
































Ek travel met die spoed van lig na al die mooi plekke in die heelal, dis magic!!




















Lekkerrrr gelees!! dankie! So plat op die aarde waar, dié storie!
lol @ worshondjie, ai, ek verlang na julle!
Zee na wie verlang jy? Is jy weg, of verlang jy na worshondjies.
BB ek is bly jy het dit geniet
Wipding, ek verlang na my blog maaitjies, dis vreeeeeeslik sonder my lappie! Kry nie genoeg tyd by die werk om alles op te vang nie. Hopelik by more gaan ek julle weer mal maak!
Zee, vrou het jy nogsteeds nie jou lappie nie! Ek gaan loer elke dag daar by jou…..niks. Ek is bly jy is môre terug. Ons het net so na jou verlang!! Vang! ek is lus om sommer net vir jou ‘n drukkie te gooi!
Zee
Ek hoop ook jy kry more jou laptop.
Wipneus
Ek huil eerder oor my brak as oor ‘n mens.
Adrie nou vra my nou weer hoekom ek die haarkapper 2 maal per maand moet besoek, stoute klein merrie!!
Baie goed geskryf. Vervang die karakters en hierdie is die storie van byna enige Afrikaanse familie in die land.
Persoonlik het ek nie veel erg aan sulke geleenthede nie, sowat van massa skynheiligheid kry jy op bitter min ander plekke as by ‘n begrafnis.
Jaco
Hoor Hoor.
Jaco, dit is waar nê?
Wahaha! So waar (Jaco).
LOL. where there is is will there is a relative.
Kyk as die volk begrafnis hou dan is dit meer drama as iets anders. Geween en kners van tande!
BAIE goed geskryf en beskryf!! Jy kan maar begin stories skryf ook! jy sal dit goed kan doen!
Ek raak altyd so vies vir my ma as ons saam na ‘n begrafnis toe gaan – sy’t geen gravesite etiket nie! Sy staan al klaar en geselsies aanknoop en lag saam met lank verlore niggies en nog wat terwyl die mense minder as 5 meter weg nog huil en toegooi.
Wip,
ek sal hoop ek lyk beter as ek dood is as wat ek gelewe het….
haha
Hallo Wipneus.
Dankie vir jou “comment”. Ek dink blogs het die wêreld van informasie oopgemaak.
Nikita,
teddiebeer spot, sê ek skryf “opstelle” soos in skool.
Riaan jy is reg dis so hoop informasie, ek krap heeldag nuuskierig oral rond (as ek tydjie het), ek het dit geniet om gister-aand daar by jou te lees.
Neykie whaahaaha
Rustig dis hierdie geween en gekners van tande wat ek probeer vasvang het.
Goed geskryf. Is daar nog?
Hiehie Rosa, gladnie verkeerd nie!
Ek het heerlik gelees, baie dankie. Ek is ewiglik mosterd na die maal, maar met die beurtkrag kom ek selde innie aand by die kompie uit! Ek is ook seker een van daai skynheiliges want as ek by ‘n begrafnis land (baie selde, dis nie my ding nie) en ek sien ander huil wil my hart sommer breek. Ek huil dan ook maar saam, nie vir die dooie, maar vir die hartseer van die ander… Ek weet dis commin, maar dis nou maar hoe ek is… Lekker dag.
Baie goed geskryf Wipneus. Dit voel kompleet soos ‘n begrafnis wat ek die anderdag moes bywoon van ‘n neef van my skoonma wat ek nog met geen oog gesien het nie.
Pikkie, moenie sleg voel nie, ek ruk ook gereeld ‘n kleenex nader, selfs as die kat ‘n muis vang! Commin? huh? nee man ou Pikkie, ons kan maar net lekker huil, dis goed om alles binne skoon te was… water is goeie Feng Shui.
Dellie ek het jou skrywe by die Parras gelees! Baie goed! Jy speel nou tussen die groot bere rond nê? Gaan vir goud, groen oog! Ek gaan jou daar lees.
Dit was lekker om te lees. Daar’s eintlik min dinge so lekker soos die begrafnis van iemand wat ‘n vol lewe gelei het en aan natuurlike oorsake dood is nie. Begrafnisbroodjies is altyd vir my so lekker en al die familie wat van heinde en vêr kom.
Ek sê altyd vir my vrou ek wil ook ‘n begrafnis hê waar almal swart aantrek en by golly, hulle beter huil dat ek hulle tot in die hemel kan hoor! Daar’s geen respek in deesdae se bontspul begrafnisse nie…
Mense het nie meer respek vir ander op ‘n begrafnis nie. Ek was by ‘n begrafnis waar ons na ‘n kroeg toe is om koek en brandewyn te nuttig, want die ou wat dood is wou dit so gehad het. Waar is die dae dat jy jou prim en proper gedra het by ‘n begrafnis?
Baie goed gesê… Dis so jammer dat ‘n mens soms ‘n straight face moet hou by so ‘n verlangse familietragedie (ek hoop dis verlangs?) – soos die duiwel dit wil hê, SAL jy mos nou begin proes as die eerste tannie die hoë note van die requiem mistrap…
ek dink….um……dat ek……..um…..NOT!